Geheuekratte:

Christo de Klerk

Eerste Aankoms Ons ry Worcester in in my pa se donkerblou 1950 Crysler Imperial. Ek is ses en word vir die eerste keer skool toe geneem.

My pa hou stil en vra 'n voetganger vir aanwysings na die Skool vir Blindes. Toe ons verder ry, moes ek my verwarring opklaar:

“Pa, hoekom gaan ons dan na 'n skool vir blindes? Wie is dan blind?”

Sien, ek het gedink, as mens klein is, sien jy min en soos jy groter word, sien mens meer tot jy uiteindelik volwasse is, een van die voordele van volwassenheid. Jy kry nie meer pak nie, jy kan wyn drink en jy kan sien!

Toe ons by Huis Murray kom, ontmoet ons die matrone, Miss Barker. Sy neem my speelkamer toe waar die ander kinders was, sodat sy eers grootmensgoed met my ouers kon gaan bespreek.

In die speelkamer ontmoet ek vir Bennie en ons word boesemvriende, 'n vriendskap wat vir 52 jaar sou hou tot sy voortydige dood. Al die jare sou ons in kontak bly. Ons het so lekker gespeel, dat dit selfs ietwat van 'n steurnis was toe my ouers kom totsiens sê. Ek wou hê hulle moes hul ry kry sodat ek en Bennie verder kon speel. Dit was eers toe ek diep in die stil nag alleen wakker word dat ek eensaam en alleen gevoel het en na my ouers verlang het en jammer was dat ek hulle weg gewens het.

Die volgende oggend begin dinge verkeerd loop vir my.

Toe ek die vorige aand gaan slaap, het ek my skoene buite my kamerdeur gesit soos ek elke aand by die huis gedoen het. My ouers het die ou Carlton-hotel in Kaapstad bestuur. Ek het in 'n hotel grootgeword. Mens het jou skoene in die gang buite jou deur gesit en in die nag het die skoenskoonmaker hulle kom skoonmaak. Niemand het destyds jou skoene gesteel nie en hulle het ook nie self weggeloop nie. In alle geval, die assistent-matrone kom toe daar aan en sê vir my: “Christo'tjie, kyk, hier doen ons dit nie so nie; hier doen ons dit self,” en sy sit 'n blikkie politoer en skoenborsel in my hande en wys my hoe om my skoene skoon te maak.

'n Rukkie later vind ek boonop uit Bennie en ek is nie in dieselfde klas nie. Hy is 'n jaar voor my. Dit was 'n verskriklike teleurstelling. Ek het gevoel ek was in 'n heel verkeerde plek.

Toe ons eerste pouse uitkom, kon ons kleintjies in 'n sandbak gaan speel. Ek het in die sandbak gaan sit en begin huil. 'n Dogtertjie wat in my klas was, het met my in die sandbak begin speel en vir my gesê om op te hou huil, sy sal my maatjie wees. Daardie gebaar het by my gebly en die wêreld was weer reg!

Tussenin Nadat ek gematrikuleer het, het ek nooit kon dink dat ek eendag weer by die skool sou gaan werk nie. Dit was beslis nie deel van my toekomsplanne nie. Maar ek en Bennie het baie teruggedink, ge-“reminisce”, halfvergete dinge weer uit die geheuekratte gehaal en afgestof en ons was verbaas oor hoe hulle in die nuwe lig soms heel anders lyk. Ons het onthou hoe ons partykeer in die stilte van die nag wakker geword het, hoe ons dan huis toe verlang het, hoe ons soms bang in die stilte gelê en wag het vir die kerkhorlosie om die uur te slaan sodat ons kon weet hoe laat dit was, hoe bly ons was as nog iemand in die kamer ook wakker was om mee te gesels om die verlange en vrees te verdryf. Ek het dit in die volgende gedig verwoord:

nokturne

ek onthou hoe ek as kind gehuil-bid het
dat die voëls die oggendlig moes bring
dat ek bevry mag word uit die nag se swart grot
met sy eensame stilte wat eentonig in my ore sing
en sarsies honde wat ver vrees blaf
en die stilte stukkend skiet
my hoopvol pleitende
is jy wakker
kom ons gesels oor speelgoed
is jy ook bang

maar ek het groot geword
en die nag het groot geword
is jy wakker
kom ons gesels
is jy ook bang ...

Tweede Aankoms

Toe ek weer na byna 18 jaar by die skool kom, hierdie keer as rekenaarspesialis en onderwyser, val dit my op dat die administrasiegebou van binne nog presies dieselfde ruik soos destyds al die jare gelede. Toe ek later die skoolgebou deur die seunspoort instap, draf ek teen die trap op. My voete het outomaties ses keer twee-twee getree vir die twaalf trappe, om die gelykte en toe weer ses keer twee-twee en nog een vir die dertiende; outomaties, ek het nie eens daaraan gedink nie. Daardie twee gewaarwordings het my amper laat voel dat ek nooit weg was nie.

Daar was nog 'n handjievol personeel oor van dié wat daar was toe ek op skool was. Hulle was hartlik en het my op my voornaam genoem, maar het tóg 'n effense houding gehad asof ek nog hul leerling is. Die grootste gros was egter nuut. Hulle het my as 'n gelyke kollega behandel, maar O so formeel! Almal het my ge-“Meneer”.

Ek stap op 'n dag op die skoolgronde toe 'n groepie seuntjies by my verbyloop. Hulle moes so st. 3 rond gewees het (daar was toe nog standerds). Ek hoor die een vir sy maat sê: “Aag, jy is net so vals soos Mnr B____!” Ek was dit met hom roerend eens oor Mnr B____, want dit het my nie lank geneem om agter te kom hoe bedrieglik die swernoot was nie. Ek het egter wel gewonder of ons ook soms toe ons op skool was, sulke plofbare dinge gesê het wat personeel gehoor het.

Een van my leerlinge, 'n st. 7-dogter, klein Gerda, was altyd so 'n opgeruimde, borrelende kind. Een dag loop ek haar op die skoolgronde raak op pad na my klaskamer toe. Sy gryp my aan die hand en sê: “Kom, Meneer, ons hardloop klas toe!” En ons hardloop. Dit het my laat dink aan daardie pragtige liedjie van die Sandpipers, Cuando Salí de Cuba, waarin die sanger nostalgies terugverlang na sy geboorteland en die verlangende vers waarin hy hunker: “To walk where I used to run”. Klein Gerda het my dag opgehelder dat ek kon vergeet van die Worcesterwind en die koue winterreën.

En Nou

En nou is ek weer weg, permanent weg, behalwe vir 'n kort besoek af en toe. Ek dink baie terug aan die skool, droom soms oor die skool en ek sê dankie vir Bennie, vir die meisie van die sandbak, vir klein Gerda, vir die onvergeetlike bydraes wat julle gemaak het wat soveel gehelp het om my weerbaar te maak teen die aanslae van die lewe.


Byderhand
©2018