Grenskunde:

Jacques Coetzee

Deesdae gebeur dit dikwels dat ek met slimmer, jonger weergawes van myself begin gesels. Partykeer praat ek hulle aan; ander kere probeer ek hulle moed inpraat. Partykeer vra ek hulle om my te herinner aan wat ek al vergeet het.

Vandag is dit so ‘n vyftienjarige knaap wat by my spook. As jy hom so uitluister, weet jy nie of jy wil lag of huil nie. Hy is indrukwekkend boekgeleerd: hy’t aanhalings vir elke ding, elke situasie. Hy is ook onbeholpe, en hopeloos ontuis in sy eie lyf. Hy is te rebels om te leer rook saam met die ander seuns, en te skaam om te dans met die meisies.

Maar as jy hom soek, is hy minstens nie moeilik om op te spoor nie. Hy sit maar altyd iewers en lees—in die skoolbiblioteek, met die klank van storiebande rondom hom; bo-op die vyftien trappe naby ‘n ou stoorkamer op die skoolterrein. Hy kan nie onthou wat hulle daarin stoor nie, en hy gee ook nie om nie. Hy weet dat daar geen gereedskap daarin is wat hom kan help nie. Hy weet hy moet homself uit hierdie klein skoolwêreld uitlees, tot in die wye wêreld daar buite.

Hy het verslaaf geraak aan lees toe hy nog klein was. Eers het hy homself verloor in stories oor ridders en drake, en later was dit Tolkien se hobbits op reis. Nog ‘n bietjie later kom Don Quixote en Sancho Panza ook by. In hierdie stories stap almal baie ver ente, op soek na ‘n land wat hulle nog nooit gesien het nie. Die stories verander die heel tyd, maar die soek bly altyd dieselfde. Hierdie een word uit ‘n pragtige tuin weggejaag; hierdie een moet vlug vir soldate wat ‘n ander taal praat as sy. Hy weet dat hy ook sal moet soek vir iets. Anders gaan hy nooit die held van sy eie storie word nie.

Hy weet hy is eensaam, maar hy weet nie wat om daaraan te doen nie. Dis nie dat hy nie gesels met die ander kinders nie. Dis net dat die gesprek op ‘n stadium leegloop. Hy is te besig om te luister vir iets wat oor die ver horison na hom toe sal aankom. Hy leer sing in ander mense se stemme. Hy kan vir Bob Dylan namaak, en vir Leonard Cohen - sangers wat ver in die wêreld woon, en wat vir jou oor liefde en dood kan vertel.

Teen hierdie tyd skryf hy al self ook gedigte, al is hulle gewoonlik nie baie sterk nie. Hy probeer skryf soos die voorste digters in sy voorgeskrewe boeke. Hy weet ‘n gedig moet ‘n slim ding wees. Hy maak seker dat daar kleure in sy gedigte is, want hy skryf altemit vir siende mense. Rooi is vir liefde en begeerte; groen is vir verval.

Partykeer lees hy vir siende mense van sy gedigte voor, maar gewoonlik is hulle dan meer nuuskierig oor hoe dit voel om blind te wees. Dit hinder hom. Hy wil eerder met hulle gesels oor Walt Whitman of Breyten Breytenbach of Johannes Kerkorrel, oor die nuutste Woody Allen-film — oor enigiets behalwe blindheid. Hy dink hy moes eintlik iemand anders gewees het. Hy gaan homself nie sommer hier kan uitlees of uitskryf nie.

Hy begin wel agterkom dat daar mense is wat hom kan help. Sy ouers koop vir hom by die skooldrukkery brailleboeke vol gedigte. Hy leer hulle uit sy kop, soos towerspreuke. Sy susters bring boeke en idees en musiek huis toe van die universiteit af. En daar is onderwysers wat stories bring oor die wêreld buite die skoolmure. Hulle vertel hoe die lewe hulle al oor die jare verander het. Hulle vertel van die weirdste mense wat hulle al ontmoet het — mense wat jy nie sommer sal vergeet nie. Hulle vertel hoe selfs siende mense hulle oë toemaak wanneer hulle soen, of soms wanneer hulle na baie mooi musiek luister. Hulle is die grenskundiges, wat die paaie ken na ander wêrelde toe.

Stadig begin die lewe vir hom in plek val. Eers raak hy verlief op ‘n meisie wat in dieselfde skool as hy is. Skielik begin hy belangstel in allerhande goed wat op die skoolgrond gebeur. Hoe kry twee blinde mense mekaar op so ‘n groot skoolgrond? Hy begin die name van plekke leer; hoe om van sy klaskamer af na hare te stap. ‘n Meisie in sy klas ken haar. Hy kan dit amper nie glo nie. Skielik voel dit asof amper almal iets weet wat vir hom ook nuttig kan wees.

Dan begin iemand in sy klas liedjies skryf, vol vreemde hartseer en donker akkoorde. Hulle maak vriende, en party middae sit hulle saam en maak musiek. Iets in hierdie liedjies laat hom skrik: die pyn wat in hulle is kom nie van buite af nie, maar van binne; van baie naby af. Miskien kan hy ook in sy eie stem leer sing, eerder as in iemand anders s’n.

Eendag gaan hy op ‘n skooluitstappie see toe. Daar is ‘n glybaan vol water naby die strand. Hulle noem dit ‘n “water-slide”. Hy klim in, en voel hoe sy lyf om hoeke en draaie spoel tot in ‘n swembad aan die onderpunt. Hy lag soos hy lekkerkry. Na die tyd sê ‘n meisie vir hom: “Ek sou nou nooit kon dink dat jy so iets so sou geniet nie.” Hy besef sy het gedink hy is maar altyd ernstig. Hy kan haar nie blameer nie.

Hy skryf matriek, en hy kyk nie eenkeer terug nie. Hy het dit reggekry: hy’t homself in die wye wêreld ingelees. Hy dink en hy lees, hy sing en hy raak verlief. Hy skryf heelwat minder: hy is so besig om ander mense se idees te verstaan dat daar maar min tyd oor is. Hy gee nie om nie. Hy’s in die wye wêreld. Hy is oor die grens.

Eendag sit ek aan ‘n tafel langs ‘n ou wysgeer. Hy is ‘n legende oral waar hy gaan. Almal sê hy vra die waaghalsigste vrae. Hy kan vir jou die storie van Rooikappie vertel sodat jy dit weer vir die heel eerste keer hoor — asof Rooikappie en die wolf en die ouma sommer dele van jou eie storie is, en mekaar toevallig vandag ontmoet het.

Dis die eerste keer dat ek so langs die wysgeer sit, maar ons gesels soos ou vriende. Aan die manier waarop hy luister, kan ek hoor dat hy ‘n groot grenskundige is. Daar is ‘n stilte, en ek wag dat hy weer iets slims moet sê.

“Jy skryf mos gedigte,” sê hy. “Jy moet eintlik vir ons laat verstaan hoe dit is om te sien soos wat jy sien.”

Ek bly vir ‘n oomblik stil. Ek onthou al die siende mense wat my al die jare oor blindwees gevra het. Ek het nooit geweet wat om te antwoord nie. Hoe moes ek weet hoe dit is? Ek verstaan dit self glad nie. “Ek sal werk maak daarvan,” sê ek.

So stadigaan, jaar na jaar, begin ek terugkyk. Ek dink aan die seuns daar waar hulle op die skoolgrond leer rook, en ek dink aan die meisies wat dalk wou dans. Ek dink aan almal wat probeer het om my te leer ken, en wat ‘n aanhaling uit ‘n gedig gekry het om te ontsyfer. En ek dink veral aan al die grenskundiges - susters en taalonderwysers en skoolsielkundiges, en almal wat so hartseer kon sing by oudleerlingbyeenkomste. Grenskundiges, almal van hulle.

Deesdae skryf ek weer gedigte, en ek probeer maar altyd begin by my eie ervaring. Daar is nie meer kleure in nie, maar daar is wel baie stemme, en daar is baie liefde en dood en alles tussenin. Ek skrik nie meer as die mense vra hoe dit nou voel om ‘n blinde man of ‘n blinde digter te wees nie. Ek sê maar ek wil ook weet. Dis dié dat ek so aanhou skryf. Dis dié dat ek so oefen om nader aan my eie lyf te luister.

Voorgelees deur: Phil van Schalkwyk


Byderhand
©2018