Ek ontdek die land van blindes:

Madelene van der Berg

Dit was ‘n groot besluit in my lewe – ‘n besluit wat die res van my lewe sou beïnvloed.

Ek was pas 15 en in die laaste kwartaal van my st. 7-jaar aan ‘n klein plattelandse skool. Hier kon ek my skoolloopbaan voltooi as die “blinde mol” in die land van siendes, of ek kon na die Skool vir Blindes op Worcester gaan. Sou ek nie dan miskien Eenoog in die land van die Blindes wees nie? het ek gewonder. Ek staan reeds uit soos ‘n seer vinger omdat ek altyd met my neus teenaan die swartbord moet sit.

‘n Tydskrifartikel maak toe die besluit soveel makliker. Die Skool vir Blindes word ‘n eeu oud en kry ‘n nuwe naam – Pionierskool. Ek was baie opgewonde toe ek dit lees, want dit klink toe meteens vir my nie meer so erg na blindheid nie . . . Ek sal seker daar aanvaar word, het ek gereken.

So het dit dan gebeur dat ek my lewe in die land van die blindes begin het. Ek het die nuwe skooljaar met gemengde gevoelens benader. Daar was die groot opgewondenheid oor die nuwe skoolklere, soveel mooier as die vervelige grys rokke waaraan ek gewoond was. Verder was daar die moontlikheid van hope nuwe maats en ‘n wye verskeidenheid buitemuurse bedrywighede. Daar was die opgewondenheid oor ‘n nuwe koshuis in ‘n groot dorp met baie winkels wat verken kon word. Op daardie stadium het ons dorpie nie eens ‘n Pep Stores gehad nie!

Ook was daar die vae hoop dat ek uiteindelik dalk ook ‘n kêrel sou kry . . .

In my verbeelding het ek my ‘n groot, ronde plek voorgestel. Daar kan tog nie hoeke wees waarin blindes kan vasloop nie! En o, toggie, wat gaan ek maak as almal aan my wil kom voel om uit te vind hoe ek lyk? Hiérdie gedagte het veral baie gepla, en ek was skielik oorbewus van my puisies en lang maer bene.

Uiteindelik breek die groot dag toe aan.

Ek was verstom om te ontdek dat die koshuis geen ronde kamers het nie. Alles het dan so normaal gelyk, behalwe dat dit mooier en meer huislik was as die koshuis waaraan ek gewoond was. Dit was nog vroeg in die dag en ek was van die eerste kinders om te arriveer. My kamermaats was nog nie daar nie. Die huismoeder het my vertel dat hulle van die Kaap en Pretoria kom. Intussen stel sy my voor aan die meisie van die kamer langsaan. Wilna, ‘n borrelende bruinoogmeisie, bied dadelik aan om vir my die skoolterrein te gaan wys. Al geselsende stap ons die skoolgronde plat. Ek verkyk my en vra baie vrae. Waar ek vandaan kom, was die skoolgrond klipperig en die weelde van grasperke het ons nie geken nie. So in die stappery stamp ek kort-kort per ongeluk teen Wilna.

“Jammer, jong, ek verwonder my so aan alles dat ek nie kyk waar ek loop nie," maak ek verskoning. Wilna aanvaar laggend my verskoning.

Terug in my kamer, haal ek my foto-album uit en begin vir Wilna my foto’s wys. So tussen- deur vra sy: “Wie is daardie oulike outjie en wie is dit die?” Ek vertel oorgretig en so gaan ons deur al my foto’s. Ek hou sommer baie van hierdie nuwe vriendin wat ek pas leer ken het. Daar is egter een ding wat my pla – haar kamervenster kyk teen ‘n betonmuur vas, terwyl my kamer ‘n lieflike uitsig het.

“Pla dit jou nie dat jou kamer geen uitsig het nie?” verneem ek.

“Nee, glad nie, want ek kan mos nie sien nie.” Ek gaap haar met ‘n oop mond aan. “Onmoontlik! Jy het dan so pas na my foto’s gekyk en my die hele terrein gaan wys?”

Betsie (Wilna?) lag heerlik. “Ag, jy wou dan so graag jou foto’s vir iemand wys. Wel, toe kyk ek maar met my glasoë daarna.”

Dit was my eerste kennismaking met blinde humor.

Die huismoeder het ons kom roep om saam stasie toe te stap, want die Kaapse kinders wat met die trein kom, sou binnekort arriveer. Op die stasie word daar gillend gegroet en links en regs drukkies uitgedeel: die maats, die huismoeder, en sommer ook ek! Dit laat my dadelik deel voel van dié babbelende groep.

So met die terugstap word ek met vrae bestook: “Dans jy?”

Ek is verstom. Daar waar ek vandaan kom, is dans nog sonde. Dans blindes dan?

“Nee, ek kan nie," erken ek verleë.

“Geen probleem nie. Ons sal jou vinnig leer, want dis binnekort weer sokkiejol.”

Ek is baie verras. Ek weet my niggies van Pretoria doen sulke dinge, maar ‘n sokkiejol het ek self nog nooit beleef nie.

“Het jy ‘n kêrel?”

“Nee.” (Ek verswyg die feit dat ek nog nooit een gehad het nie en hoeka hoop om hier in so ‘n geluk vas te loop.)

“Ook geen probleem nie. Dit kan gereël word.”

Ek is nogal opgewonde oor die moontlikheid, maar sê nou die ouens wil my met hul vingers verken? Die gedagte pla baie en later daardie aand vra ek my een kamermaat: “Bevoel die ouens mens om te weet hoe jy lyk?”

“Wel, dit hang af . . .” Dit is al antwoord wat ek van haar kry.

Die eerste paar dae het ek dus angstig die oomblik afgewag dat ek deur ‘n blinde ou “bekyk” gaan word, maar gelukkig gou besef dat ek maar kon ontspan.

My eerste skooldag was egter ‘n nagmerrie-ervaring, en ek sal liewer nie ‘n goeie storie bederf met dáárdie skrikwekkende belewenis nie. Al wat ek sal waag om te sê, is:

“Wat is erger as ‘n eerste ontmoeting met juffrou Gerber?"

Met die danslesse het dit ietwat wankelend gegaan. My ritme het veel te wense oorgelaat.

By die eerste sokkiejol het ek egter die dansers 'n rukkie lank só staan en bekyk, en besluit dat ek beslis darem ook sulke gedoentes kan naboots! Sien, daar was twee maniere van dans:

As die tempo van die musiek vinnig is, trap jy miere dood en maak vliegbewegings met jou arms.

As die tempo stadig is, “close” jy. “Close” het beteken om jou dansmaat so vas te klou dat die arme siel nie veel kon beweeg nie. Dan staan julle maar so op een plek en roer net so nou en dan 'n voet. Dìt kon ek besonders goed gedoen het. Ek het dit selfs reggekry om op maat van David Kramer se “Haak hom Blokkies” die vasklou-ding te doen! (Onthou, ek het mos nog ‘n probleem gehad om ritme te hou.)

So het dit dan gebeur dat ek met my flou “bulpies” deel van die land van die blindes geword het. Die was die beste drie jaar van my skoolloopbaan en gou het ek geleer om te lag oor my eie blinde blapse.

Ook het ek besef dat dit wel ongerieflik en duur is om sleg te sien, maar beslis nog nie die einde van die wêreld nie!


Byderhand
©2018