By my skool is elk van die geboue eintlik ‘n baken – elkeen van hulle omgewe met soveel herinneringe dat dit onmoontlik is om net een plek uit te sonder. Maar in die Biesenbachsaal het ek van die mooiste oomblikke in my lewe beleef.
In my st. 3-jaar is ek gekies om deel te neem aan die Kersspel wat elke laaste Sondag van die laaste skoolkwartaal opgevoer is. Ek moes die rol van koning Kaspar vertolk, die eerste van die drie wyse manne. Bid jou dit aan!
Onder leiding van ’n baie streng juffrou Diedericks moes ons dikwels tot laat in die saal oefen. As ‘n mens laataand in die saal is, ervaar jy die reuke wat so eie aan die saal is, intens, en jy hoor hoe die stilte eintlik in jou ore raas. Dan kon jou verbeelding maklik met jou op loop sit.
En as een van die houtpanele of stoele, of enigiets anders in die saal skielik begin kraak het, soos wat party houtgoeters mos maar saans die manier het om te doen, het dit natuurlik die regte atmosfeer verskaf as jy en jou maats mekaar met jul spookstories op hol gejaag het. Jou armhare het so half en half orent gestaan, en dit was meteens ‘n totaal ander Biesenbachsaal as Maandae met die saalbyeenkoms.
Ek het “Stille Nag” al baiekeer gehoor, maar dit was nog nooit so mooi soos wanneer die skool se senior koor die Kersspel tradisioneel daarmee afgesluit het nie.
Die jaar voordat ek hoërskool toe is, verander die afsluitingslied toe. Toe ek “Met Middernag” die eerste keer gehoor het, het ek gedink dat dit waaragtig die heel mooiste lied was op aarde. En toe ek uiteindelik deel was van die senior koor, was die oomblik dat ons die Kersspel kon afsluit met daardie lied, vir my byna te groot.
Ek onthou goed hoedat ek meteens ophou sing het, my asem opgehou het en die oomblik, die hier en die nou, net ingedrink het, hoedat die Musiek my omring het, hoe dit my binnegedring het, my hele wese geabsorbeer het.
Daar was die ander kere wat ek saam met die res van die skool onder orrelbegeleiding Maandagoggende uit volle bors kon sing. Sing, sing, en nogmaals sing! Dit was vir my wonderlik as ons ‘n lied gesing het wat ek goed geken het, want dan het ek nog so ‘n bietjie meer as my beste gegee.
En gepraat van ‘n orrel: ek weet nie van baie ander skole waar daar ‘n orrel in die saal is nie. Ons was dus eintlik so bevoorreg, net jammer dat ek dit nie destyds besef en meer waardeer het nie.
Dit was in die Biesenbachsaal waar ek vir die eerste keer in lewende lywe ‘n hele simfonie-orkes kon hoor speel, sommer hier reg voor my. Dit was so betowerend. Ek is net spyt dat ek nie daardie aand elke oomblik meer ingedrink het nie – ek was veels te bekommerd dat ek die Top 20 wat Vrydagaande na 10 uitgesaai is, sou misloop. Maar nou ja, as jy 12 jaar oud is, is dit seker maar tekenend van die onwysheid van die jeug. Gelukkig het ek darem later jare wéér die voorreg gehad om na grootste musiekuitvoerings te kon gaan luister, sommiges wel in die skoolsaal, ander weer in plekke soos die legendariese Endlersaal op Stellenbosch.
Toe ek hoërskool toe is, was ek, soos elke ander standerdsessie destyds, so half verplig om die eerste skoolsokkie van die jaar by te woon. Heeltemal teen my sin, en besonder nukkerig is ek en een van my beste maats toe nou maar dié aand soontoe. Groot was my skok toe ek daar aankom en besef dat ek die enigste persoon is wat die aand met ‘n kortbroek en plakkies daar opgedaag het, terwyl die res almal netjies en modern aangetrek was. Ek het ook amper die hele aand by die snoepie rondgehang, en my nie veel gesteur aan die meisiekinders in my klas wat net die hele tyd wou dans nie.
Meisiekinders, het ek toe gereken, verstaan nie waaroor die lewe gaan nie!
Ek was so bevoorreg om tydens ons groep matrieks se laaste saalbyeenkoms net voor ons begin blok het, die skool op die orrel te begelei. Dit was ‘n geleentheid waarvan ek jare lank gedroom het, sedert ek die eerste keer by Pionierskool aangekom het. Ek het amper die hele voorafgaande naweek geoefen, want ek wou hê dat my spel so na aan perfek as moontlik moes wees.
In 1998 het ek as oudleerder weer my skool besoek. Dit was ‘n ondervinding om tydens ‘n saalbyeenkoms weer in die saal te kon sit. Die byeenkoms is soos gebruiklik afgesluit met die sing van die skoollied. Trotser as ooit het ek daardie oggend uit volle bors saamgesing, maar so halfpad deur die eerste vers het die oomblik my oorweldig en het my gemoed volgeskiet. Carin (wat toe nog nie my vrou was nie) het dit seker maar gesien en my hand net ‘n sagte drukkie gegee.
Fiat Lux, dit is ons leuse
Beur ons kragtig na die lig
Fiat Lux, dit is ons keuse
Daarop bly ons doelgerig!
Voorgelees deur: Pieter Botes